Glenvar is die Bybel Kollege van die Afrika Evangeliese Bond, ’n sendinggenootskap in Suid-Afrika en Namibië. Glenvar gee sedert 1938 opleiding aan studente wat die roepstem van God gehoor het om vir Hom te gaan werk. Tans is daar sendelinge en evangeliste in Suid Afrika en regoor die wêreld, vanaf die Amazone woude tot en met Japan, almal wat hulle opleiding by ons ontvang het.
Die Bybel Kollege is tans geleë in Potchefstroom, Noord Wes.
Die opleiding bied ʼn deeglike grondslag in die Skrif en is daarop gemik om studente geestelik, verstandelik en prakties vir voltydse diens toe te rus. Ons doelwit is dat studente die Kollege sal verlaat met die salwing en krag van die Heilige Gees as ʼn werklikheid in hulle lewens en die las op hulle harte om mense na die Here Jesus Christus te lei.
Daar word elke dag tyd afgesonder vir gebed, persoonlike stiltetyd en klasse. Die kursus strek oor ʼn tydperk van twee jaar en is tweetalig. Die dosente bestaan uit AEB-werkers en predikante. Die lesings is van ʼn hoogstaande gehalte.