Getuienisse

“Toe ek vars uit matriek by Glenvar Bybelskool aangekom het, was ek ‘n opgewonde en passievolle, tog onkundige, jong meisie en vol geestelike hoogmoed (alhoewel ek salig onbewus was daarvan). In my twee jaar van opleiding het die Here Sy Woord vir my kom oopbreek sodat ek nie alleen ‘n dieper begrip gehad het van die tydlose waarheid daarvan nie, maar ook dit duideliker en meer doelgerig aan ander kon oordra. Deur die praktiese deel (kwartaallikse uitreike) het my vrymoedigheid gegroei en ek het waardevolle ondervindinge opgedoen in die area van persoonlike berading.
Maar meer as alles, het die Here kom handel met die hoogmoed. Die klei wat misluk het, kon Hy hervorm tot sy heerlikheid.”


“Ek het by Glenvar begin as student om en by 28 Jaar gelede. Ek was toe al agt Jaar gered , maar na ‘n paar maande het ek agter gekom daar is fout in my geestelike lewe. Een middag op die sportveld het ek duidelik besef dat ek nog nie volkome oorgegee is aan die Here. Ek het saam met een van die personeel die Here vertrou vir hartsreiniging en ‘n volle oorgawe aan die Here. Die Here het die werk kom doen in my hart!”


“Dit was vir my een van die moeilikste keuses om alles agter te laat en na Glenvar toe te gaan, alhoewel in my hart ek geweet het dat dit die regte besluit was. My eerste week op Glenvar het ek om gehuil, ek wou net my tasse pak en weghardloop, tydens ons week van gebed wat ons op Glenvar gehad het, het Jesus so duidelik met my kom praat deur ‘n boodskap van Ds. Harry Van Niekerk en vir my gewys; “My kind dit is waar ek jou nou wil hê, jy is waar jy moet wees.”
Van daardie oomblik af was my hart verander en was daar soveel vreugde in my hart. Glenvar was n tyd waar ek kon afsonder van die gewoel daarbuite, tyd kon spandeer in God se” Woord” tydens klasse, en studie tyd in die middag.”


“Die Here Jesus het my wonderlik kom red deur die werk van die Afrika Evangeliese Bond in 2008. ‘n Maand daarna is ek na Glenvar en daar het die Here my SO baie kom leer, bv., hoe moet mens getuig en met ander deel wat die Here vir jou gedoen het, hoe om stiltetyd te hou, ek het baie van die Bybel geleer, hoe om die Here se stem te herken en daarna te luister, hoe om te bid, hoe om uitreike te doen en met verskillende ouderdomsgroepe die evangelie te deel, en nog baie ander dinge wat belangrik is vir ‘n gesonde, standvastige Christelike lewe. Ek sal graag wil hê my kinders moet eendag ook self soontoe gaan. Ek dank die Here vir twee goue jare by Glenvar.”